Grammatikale kategorisering gebaseer op vorm en funksie: Die bysin in die Afrikaans Huistaalkurrikulum as gevallestudie
Grammatical categorisation based on form and function: The subordinate clause in the Afrikaans Home Language curriculum as a case study
Keywords:
Afrikaans Huistaal, betreklike bysin, byvoeglike bysin, bywoordelike bysin, bysin, gesegdesin, kategorisering, komplementbysin, morfosintaktiese kriteria, onderwerpsin, pedagogiesegrammatikakriteria, voorwerpsin, wollerige grenseAbstract
Wollerige grense tussen grammatikale kategorieë het gelei daartoe dat skoolgrammatikas bysinne oor die afgelope 100 jaar op onbevredigende wyse gekategoriseer het. Dit blyk uit die feit dat (i) bysinne wat dieselfde inleier het, en logieserwys as dieselfde soort bysin beskou behoort te word, op grond van funksie as verskillende soorte bysinne gekategoriseer is, (ii) klassifiseringskriteria nie duidelik afgebaken is tot slegs een kriterium (soos funksie) nie, maar dikwels ’n kombinasie van funksionele, sintaktiese, semantiese en/of vormlike kenmerke omvat, en (iii) die grense van verskillende subkategorieë wollerig is, omdat betekenis as kriterium gebruik word en dieselfde bysin gevolglik as een van meerdere subtipes gekategoriseer kan word.
Hoewel wollerige grense nie noodwendig in die linguistiek as problematies beskou word nie, behoort die grense van grammatikale kategorieë op skoolvlak nie vaag te wees nie. Om hierdie rede fokus die huidige artikel op ’n alternatiewe, eenduidige kategoriseringsisteem vir bysinne, gebaseer op die tipe sinsdeel of woordsoort wat dit inlei. Slegs drie soorte bysinne word vervolgens onderskei, naamlik bywoordelike bysinne, komplementbysinne en betreklike bysinne.
’n Vergelyking tussen die voorgestelde drie bysinsoorte en die vyf bysinsoorte wat in die huidige onderrigleerplan voorkom (naamlik onderwerpsinne, voorwerpsinne, gesegdesinne, bywoordelike bysinne en byvoeglike bysinne) word eksplisiet getref, sodat die voordele van ons drie kategorieë, onder andere dat dit aan ál agt gestelde beginsels van ’n pedagogiese grammatika voldoen, duidelik blyk.