Groot brande in die Wes-Kaap
Big fires in the Western Cape
Abstract
Veldbrande kom gereeld in die Wes-Kaap voor. Terwyl die verskillende ekosisteme afhanklik is van brande vir die herlewing van plante, voedingstofsiklusse en die verwydering van dooie organiese materiaal, kan groot brande habitatte beskadig, biodiversiteit verminder en menselewens bedreig. Om die negatiewe impak van groot brande te versag, word ’n begrip van die frekwensie en terugkeerinterval van brande vereis. In 2015 is daar geprojekteer dat die westelike dele van suidelike Afrika ’n toename in hittegolffrekwensie en hoë-brandgevaardae in die verre toekoms vanaf 2071 tot 2100 gaan ervaar. Daarbenewens kan ’n verskuiwing in die reënvalseisoen voorkom, wat tot ’n verlengde droë seisoen kan lei en sodoende brandrisiko kan verhoog. Om brande te bestudeer vereis kennis van brandregimes.