Die probleem van nikotien- en alkoholgebruik tydens swangerskap: Opsomming van die bevindings van die Veiligegeboortestudie
The problem of nicotine and alcohol use during pregnancy: Summary of the findings of the SafeBirth Study
DOI:
https://doi.org/10.36303/SATNT.2025.44.1.2610Keywords:
alkohol, doodgeboortes, drink, gehoortoetse, magnetiese resonansbeelding, nikotien, nikotienreseptorbinding, rook, swangerskap, tabak, umbilikale arterie, uteriene arterie, vloeispoed, wiegiesterftesAbstract
Die Veiligegeboortestudie was ’n groot multinasionale prospektiewe studie, in 18 604 swangerskappe, om die verband tussen nikotien- en alkoholgebruik tydens swangerskap met doodgeboortes en wiegiesterftes te ondersoek. Akkurate metodes is gebruik om vroue by soveel as vyf geleenthede tydens swangerskap te ondervra oor hulle drink- en rookgewoontes tydens die voorafgaande maand. Die daaglikse gebruik is bepaal en daarna is vroue in vyf en sewe groepe ingedeel, onderskeidelik, volgens hulle nikotien- en alkoholgebruik, met niegebruikers as die kontrolegroep vir die ontledings.
Die risiko van doodgeboortes was byna twee maal hoër indien vroue nikotien gebruik het, maar byna drie keer hoër indien hulle nikotien en alkohol gebruik het. Die gebruik van alkohol tydens swangerskap het nie die risiko van suigelingsterfte aan ’n bekende oorsaak vergroot nie, in teenstelling met die byna drie keer hoër risiko by nikotiengebruik. Die gebruik van alkohol het die risiko van wiegiesterftes byna vier maal vergroot, maar dié van nikotien meer as sesvoudig, en die gesamentlike gebruik van nikotien en alkohol byna vyftienvoudig. Ontleding van die pons en medulla van die brein van die fetus of kind, wat tydens outopsie verkry is, het aangetoon dat nikotienreseptorbinding verband hou met die gebruik van nikotien en alkohol, ’n verandering wat met die meganisme van wiegiesterftes verband hou. Hierdie gewoontes het ook ’n nadelige invloed op breinstamoudiometrie van sommige babas ná geboorte gehad.
Verdere ontleding van 5 809 swangerskappe uit Bishop Lavis, Kaapstad, het getoon dat die vloeispoed in die uteriene arterie betekenisvol verminder het indien vroue baie nikotien en alkohol gebruik het. In die umbilikale arterie het selfs matige gebruik vloeispoed betekenisvol verminder. Die voorkoms van voortydige loslating van die plasenta was 0,11% onder die 875 vroue wat nie nikotien en alkohol gebruik het nie, maar 1,25% onder die 2 804 vroue wat min gebruik het. Groei van die fetus, soos gemeet met ultraklank, is ook betekenisvol deur die gebruik van nikotien en alkohol verminder.
Op die ouderdom van vier jaar is die neurokognitiewe ontwikkeling en gedrag van 500 kinders ondersoek. Indien die moeder hoë volumes alkohol gebruik het, het die kinders moeite ondervind om gelyktydige of opeenvolgende take uit te voer, en het hulle laer tellings in taal- en sensomotoriese domeine en meer aandag- en omvattende ontwikkelingsprobleme getoon. By hierdie kinders was die intima- en media-lae van die A. carotis communis dikker indien hulle aan nikotien en alkohol blootgestel was. Die lengtes van die niere en pankreasliggaam was betekenisvol minder indien die moeder nikotien gebruik het. Hierdie veranderings is waarskynlik ’n aanduiding van die risiko van die ontwikkeling van hipertensie en diabetes in die latere lewe.
Verdere opvolging met magnetiese resonansbeelding van 313 kinders het getoon dat blootstelling aan nikotien verband hou met kleiner kortikale volumes van die orbitofrontale streek, ’n breinarea wat verband hou met die verwerking van beloning en straf sowel as emosionele en sosiale regulering.
Die nadele van die gebruik van nikotien en alkohol tydens swangerskap vir groei en ontwikkeling van die kind is duidelik uitgewys en aanduidend van wat in die volwasse lewe verwag kan word.
Ingedien: 24/03/2025
Aanvaar: 09/06/2025
Gepubliseer: 18/08/2025
Downloads
Published
Issue
Section
License
Copyright (c) 2025 Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie

This work is licensed under a Creative Commons Attribution-NonCommercial 4.0 International License.